Dit is bekend dat daar bepaalde verse in die 1983-vertaling ontbreek wat wel in die 1933/1953-vertaling voorkom. Enkele bekende voorbeelde is Hand 8:37; Matt 6:13; 1 Joh 5:7-8. Waarom is dit gedoen?
In antwoorde op vorige vrae is reeds gewys op die groot verskeidenheid teksgetuies uit baie eeue met baie variante lesings waaruit die bronteks van die Nuwe Testament saamgestel kan word.
Daar is ook reeds verduidelik wat die Textus Receptus is en dat met die ontstaan van die King James Version en die Nederlandse Statevertaling dit die enigste beskikbare gedrukte bronteks vir die Griekse Nuwe Testament was.
Met die voorbereiding van die 1933/1953-vertaling was die vertalers goed bewus daarvan dat daar reeds vanaf die negentiende eeu betroubaarder brontekste beskikbaar was as wat die vertalers van die Statevertaling gebruik het. Hulle het egter doelbewus besluit om nie af te wyk van die teks wat vir die Statevertaling as bronteks gedien het nie (Textus Receptus). Daar was reeds baie weerstand teen 'n Afrikaanse vertaling, en die Bybelvertalers - reg of verkeerd- het geredeneer dat die leserspubliek nie albei hierdie veranderings gelyktydig sou kon verwerk nie. Daarom het hulle besluit om eers die taal te verander, van Nederlands na Afrikaans, en om dan by 'n latere geleentheid aan die bronteks aandag te gee. Die Bybel met verklarende aantekeninge (1958) het later doelbewus probeer bydra om die oorgang tot die gebruik van 'n suiwerder bronteks te maak, en om die lesers vir 'n latere nuwe vertaling voor te berei.
Dit is teen hierdie agtergrond wat byvoorbeeld die "weglating" van Hand 8:37 gesien moet word. Toe Erasmus die gedrukte teks van die Nuwe Testament voorberei het in 1515-16, het hy slegs enkele laat Middeleeuse manuskripte tot sy beskikking gehad. In die een manuskrip van Hand het 8:37 ontbreek, terwyl dit in die ander duidelik eers later as 'n invoeging net in die kantlyn ingeskryf is. Tog het Erasmus dit in sy teks opgeneem omdat hy gemeen het dat deur die agtelosigheid van 'n vorige afskrywer moes uitgeval het. Dit ontbreek egter in al die beste manuskripte. Daarom ontbreek die vers (wat eintlik 'n invoeging in die teks was!) in alle resente vertalings wat op die beste bronteks teruggaan.
Dit geld ook van 1 Joh 5:7-8. Die woorde wat weggelaat is na die "drie wat getuig", dit wil sê: "in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; 8 en daar is drie wat getuig op die aarde" kom nie in die beste manuskripte voor nie. Dit was wel aanwesig in die minder goeie tekstradisie waarop al die eerste vertalings (Nederlandse Statevertaling, King James Version) berus het, die Textus Receptus. Dit is is net in 9 baie laat manuskripte aanwesig, die meeste uit die 18de eeu, enkeles uit die 16de eeu, met die "oudste" manuskrip uit die 10de eeu. Van die 9 manuskripte het vier boonop die betrokke woorde ook slegs in die kantlyn as 'n kantaantekening. Vergelyk hiermee die mees betroubare manuskripte wat veel ouer is en uit die 2de tot 4de eeu dateer en waarin dit ontbreek. Erasmus het ten spyte van alle kritiek tot en met sy tweede uitgawe (1519) geweier om die lesing op te neem sonder 'n Griekse manuskrip as teksgetuie en net op grond van die Latynse Vulgaat. Uiteindelik het hy dit wel in sy derde uitgawe (1522) opgeneem toe kodeks 61 uit die 16de eeu(!) met die lesing daarin aan hom getoon is. Daar is trouens 'n sterk vermoede dat die betrokke lesing ontstaan het toe 'n vroom afskrywer juis hierdie bekende woorde as fundering van die belydenis van die Drie-eenheid in die teks ingevoeg het. So dit wat in die 1983-vertaling na 'n "weglating" lyk, was in feite 'n "invoeging" wat Erasmus eintlik teen sy sin gedoen het.
Dit beteken natuurlik glad nie dat die kerke wat die 1983-vertaling (of ander vertalings gegrond op goeie brontekste) gebruik nie meer die Drie-eenheid van God aanvaar en bely nie. (Vergelyk al die Engelse gelowiges wat Engelse vertalings gebruik waarin 1 Joh 5:7-8 ook ontbreek). Die Drie-eenheid word bely op grond van die boodskap van die Bybel as geheel en nie op grond van enkele tekste nie.